Laat ons sommer vanmiddag baie reguit met mekaar wees: Die van julle wat heelwat ouer as 20 is en nie weet wat ‘n ZX Spectrum is (of was) nie, gaan asseblief NOU hierheen, want daar is nie veel hoop vir julle nie
http://en.wikipedia.org/wiki/Zx_spectrum
Vir ons jonger lesers sal ek kortliks verduidelik…
Vroeg in die 1980’s het Sinclair Research maatskappy ‘n tuisrekenaar (met ‘n sleutelbord vol aaklige rubberknoppies) gebou wat bekostigbaar genoeg was dat die gemiddelde mens dit kon koop en kragtig genoeg (relatief tot daardie tyd) om speletjies en opvoedkundige programme te kon loop. Die eerste modelle het uitgekom met ‘n verstommende 16 kilogrepe geheue en ‘n asemrowende 3.5 MHz verwerker… sjoe die spoed van daardie masjientjies darem!
Wel, 25 jaar later en ons rekenaars se verwerkers loop nou teen ongeveer 900 keer daardie spoed en die hoeveelheid geheue wat deesdae in ‘n gemiddelde rekenaar is, is sowat 64,000 keer wat in die ZX Spectrum was as my wiskunde my nou nie in die steek laat nie!!! Ek hoef seker nie vir julle te sê dat dit nogal ‘n tydjie geneem het vir sagteware om op daardie rekenaars te laai nie, veral as jy in ag neem dat sagteware toe nog op magneetbande (presies dieselfde as klankkassette) gestoor is!
Dit het nogtans vir ure se genot gesorg wanneer mens jouself eers voor die rekenaar gaan neerplak het… trouens dit was nie veel anders as vandag nie, want kinders het toe ook (danksy die ZX Spectrum en ander soortgelyke rekenaars van daardie tyd) hul vriende, skoolwerk, pligte in en om die huis, ens verwaarloos… nee dit was darem nie heeltemal so erg soos vandag nie
Die ander ding wat ek net moet noem is dat die Spectrum ‘n 12-volt kragbron gebruik het – met ander woorde dit het ‘n transformator gehad wat jy by die muur inprop en dan by die rekenaar – presies soos laptops deesdae werk, behalwe dat dit meer krag nodig gehad het, en soos iemand wat ek ken (laat ons liewer nie name noem nie) eendag uitgevind het: As jy daai proppie in jou mond druk en dit nat lek in plaas van by die rekenaar inprop dan skok dit jou
Het enige iemand anders enige Speccy stories om met ons te deel?
Gerhard het gister vir my ‘n skakel gestuur na die volgende webwerf met ‘n klomp ou ZX Spectrum speletjies wat mens sommer net daar op die web kan speel! Wel geniet dit…