Ek het nog altyd gewonder oor elektriese voertuie wat op sonkrag loop… wat gebeur as dit oortrokke is en daar’s vir ‘n lang tyd geen sonlig om op die dakpanele te skyn en die batterye te laai nie? Gebruik mens dan maar goeie ou menskrag om dit aan te dryf? Onthou julle hoe die Flintstones hul motors moes aangedryf het? Die Venturi Eclectic is ‘n motortjie wat gaan poog om daardie tipe probleem hok te slaan met ‘n paar alternatiewe metodes om elektriese krag te “versamel”. Dit het sonpanele op die dak, asook ‘n windturbine, en elektriese kabel om by jou huis se kragtoevoer in te prop en die batterye te laai as daar nie voldoende wind of sonlig beskikbaar is nie!
Die enigste ding wat baie mense kan afskrik van die innoverende motor is dat dit inderdaad nogal baie soos Fred Flintstone se een, net met ‘n 21ste eeuse baadjie aan lyk! Dis net vir my opvallend dat hulle twee algemeen gebruikte metodes van kragopwekking weggelaat het uit die motor se ontwerp: Steenkool en kernkrag… Dalk is dit net in die luukse modelle beskikbaar
Die 50 uur batterytyd en 50km/h spoedgrens van die Eclectic maak dit egter dalk meer geskik as ‘n golfkarretjie-waaroor-almal-praat, as om dit vir elke dag se werk-toe-en-terug ryery in te span, want ek weet nie hoe my baas sal reageer as ek 2nm hier instap en sê “jammer ek is laat, maar ek het langs die pad gaan staan met ‘n pap battery…” nie!
Lees die volle storie hier:
http://blog.scifi.com/tech/archives/2006/11/28/venturi_eclecti.html
Almal wat nog lekker wil lag vir absurde ontwerpe van elektriese voertuie kan gerus hier gaan kyk, maar sit asseblief eers op ‘n stewige stoel!