Deesdae sit mense mos heeldag en Solitaire speel terwyl hulle moet werk… Wel, so 20 jaar gelede was daar ‘n ander “verslawende” speletjie wat dag en nag regoor die wêreld deur jonk en oud gespeel is…
Ek praat van Tetris – die immergroen (of is dit nou bloedrooi?) speletjie wat mens se brein heeltyd aan die gang hou, terwyl jy probeer om vallende blokkies met verskillende vorms by mekaar te laat inpas en rye te voltooi, ten einde sulke vol rye dan te laat verdwyn voordat die blokkies opmekaargestapel word en jou skerm volmaak. Die belangrikste eienskap wat jy nodig het om dit te speel is om blitsvinnig te kan dink!!!
Tetris is in 1984 deur die Rus, Alexey Pajitnov, ontwerp en geprogrammeer en het baie vinnig soos ‘n veldbrand om die aardbol versprei! Mens kry die spel vandag nog in baie verskillende variasies vir omtrent enige rekenaargedrewe toestel denkbaar – persoonlike rekenaars, tv speletjies van enige aard, selfone, videomasjiene en ek dink as mikrogolfoonde en ketels voldoende skerms gehad het sou jy dit seker daarop ook kon speel!
Dit was vir my nogal interessant om op Wikipedia te lees van die geskiedenis van Tetris en ook die uitwerkings wat dit na bewering op ‘n mens se brein kan hê.
Almal wat dit al gespeel het sal ook met my saamstem dat daardie Russiese musiek so ‘n lastige vermoë het om heeldag lank in mens se gedagtes te bly draai… dalk is dit deel van die subtiele manier hoe die programmeerder almal daaraan verslaaf gekry het
http://en.wikipedia.org/wiki/Tetris