In 1993 word die “vader” van moderne Webblaaiers – Mosaic – vrygestel, nadat Eric Bina and Marc Andreessen hulle vir omtrent 5 maande afgesloof het om ‘n grafiese webintervlak te skryf wat Tim Berners-Lee se splinternuwe Wêreldwye Web (WWW) meer doeltreffend kon benut.
Kort daarna besluit Andreessen om Mosaic kommersieel te begin bemark, en verander die naam van sy maatskappy van “Mosaic Communications” na “Netscape Communications”. Hieruit word die eerste Netscape Navigator webblaaier toe gebore.
Netscape is uit die staanspoor baie suksesvol, stabiel en betroubaar, en word sommer gou ‘n groot naam. Microsoft besluit in 1994 om ‘n lisensie te koop om Mosaic (teen hierdie tyd al deur etlike miljoene mense wêreldwyd gebruik) se bronkode te neem as grondslag vir die ontwikkeling van hulle webblaaier – Internet Explorer…
Van daar het beide Netscape en Internet Explorer heelwat ontwikkeling ondergaan, en lateraan is Netscape deur AOL gekoop, maar hulle het Marc Andreessen beslis nie die trekpas gegee nie – inteendeel; hy word toe hul Hoof Tegnologiebeampte!
Uiteindelik besluit Netscape om hulle bronkode oop te stel vir ontwikkelaars, teen absoluut geen koste, en noem die projek “Mozilla”. As gevolg van die redelike “groot”, effens lomp sagteware wat hiervan ontwikkel is en te stadig op meeste rekenaars loop, word die Firefox projek toe daarvan afgestig, en dis seker nie nodig om enige iets verder daaroor te sê nie – die Vuurwarm Vos waarop meeste ernstige rekenaargebruikers versot is het homself al genoeg bewys dat ek glad nie nodig het om hom te “prys” of allermins te verdedig nie!
Die ding wat verder in Firefox se guns tel, is dat dit op meeste moderne bedryfstelsels (Linux, Mac OS X, Windows, en ‘n paar ander) loop en mens kan nie eers duidelik sien op watter een jy dit gebruik nie, aangesien die Firefox gebruikersintervlak eenvormig is! Verder is nie net die finale produk nie, maar ook die bronkode gratis en vrylik beskikbaar sodat enige iemand dit kan gebruik en ook hul eie wysigings daaraan kan maak, soos nodig. Hierdie aspekte maak dat enige foute in Firefox gewoonlik baie vinnig geidentifiseer en reggestel word, wat lei tot ‘n meer stabiele, veiliger ervaring vir gebruikers daarvan. Foute en sekuriteitsgapings in ander webblaaiers neem meestal heelwat langer om herstel te word vanweë die meer kommersiële, “geslote” aard daarvan. Verder het blaaiers soos Firefox en Opera al vir ‘n geruime tyd die vermoë om advertensie vensters wat vanself oopmaak te blokkeer – iets wat Microsoft eers relatief onlangs gekopieer het vir hul Internet Explorer. Net so was dit ook Opera en Firefox wat die weg gebaan het om verskeie webwerwe in dieselfde programvenster, maar in verskillende blaaie (”tabs”) oop te maak, en weereens het Internet Explorer eers teen weergawe 7 begin om daardie ander maatskappye se produkte na te aap
Ek vir een verkies om nie “geleende” tegnologie te gebruik, van ‘n maatskappy wat groot winste maak uit ander se harde werk nie… Wat meer kan mens sê? Sal die ware troonopvolger van webblaaiers asseblief opstaan en sy stert swaai? As dit ‘n stert het om te swaai…
Ter afsluiting net die volgende: Hierdie storie is geskryf in antwoord op ‘n ietwat oningeligte leser wat by ons “Afrikaanse Firefox” storie die ongegronde bewering gemaak het dat Firefox op Internet Explorer gebasseer is… en ek dink dat die feite hierbo hard en duidelik daarteen getuig! Verder wil ek net ook die aandag daarop vestig dat Mosaic, waarop Netscape, Firefox, EN Internet Explorer gebasseer is, die lewe begin het op ‘n Unix stelsel by die NCSA in Amerika – dus het AL hierdie webblaaiers inderdaad hul ontstaan te danke aan Unix, so miskien is dit gepas dat EEN van hulle weer op daardie bedryfstelsel se afstammeling (Linux) beskikbaar is! Maadag kan julle bietjie oor Microsoft se gewoonte om tegnologie by ander maatskappye te “leen” lees, so moet dit nie mis nie! Maandag, net hier op Kuier.co.za!!!
http://en.wikipedia.org/wiki/Browser_wars
June 1st, 2007 at 8:34 am
Sjoe!