Dis nogal opvallend hoedat stoere ondersteuners van Microsoft gewoonlik wil maak asof ons nog in die “tegnologiese donkereeue” sou geleef het sonder die manne van Redmond se bydraes tot die rekenaarwêreld… Die feit van die saak is egter dat meeste van hulle produkte van ander maatskappye “geleen” is, en ek reken die oorspronklike skeppers van die betrokke sagte- en hardeware sou in ‘n Microsoftlose wêreld heel bekwaam genoeg gewees het om hul eie produkte te bemark en self die vergoeding daarvoor in te vorder sonder die geldwolwe se “hulp”…
Microsoft se eerste groot sukses – DOS – was niks meer as ‘n namaaksel van die QDOS bedryfstelsel, wat op sy beurt ‘n aanpassing van die oorspronlike CP/M stelsel van Digital Research Inc was, vir gebruik op persoonlike rekenaars. Hulle het DOS toe aan IBM gaan bemark, voordat Digital Research self hul eie CP/M kon voorlê! Hierdie stryd het in later jare voortgeduur toe Microsoft weereens nuwe funksies van DR-DOS (opvolger vir CP/M) geneem en “oorgeplant” het in MS-DOS 6!
Net so was Excel ook maar net ‘n aanpassing van die baie gewilde Lotus 1-2-3, wat op sy beurt alreeds op VisiCalc gebasseer was.
Microsoft Word, hoewel nie een van die eerste woordverwerker programme nie (WordStar is reeds in 1978 vir CP/M ontwikkel), het darem ‘n groot sprong vorentoe gegee en word beskou as een van die eerste wat-jy-sien-is-wat-jy-kry (WYSIWYG) woordverwerkers, dus moet ek hier vir Microsoft ‘n punt gee vir oorspronklikheid… en ons gee hulle maar die voordeel van die twyfel siende dat Word in dieselde jaar (1984) as MacWrite beskikbaar gestel is
So is daar nog baie ander “geleende” produkte wat op mededingers se reeds-bestaande tegnologie gebasseer is, bv. Internet Explorer, die Zune media-speler wat weereens (lees verder aan) ‘n Apple produk na-aap, die Xbox, DOS Shell (by DOS ingesluit om met Norton Commander te probeer meeding), en so kan die lysie nog aangaan…
Microsoft het, interessant genoeg, in 1979 ‘n lisensie van AT&T bekom om Unix onder die naam “Xenix” te bemark… Dus het hulle reeds lank voor DOS se dae al ‘n Unix-gebasseerde bedryfstelsel (soos wat Linux ook is) begin verkoop! Enige kommentaar nou van al die pro-Microsoft-anti-Linux mense daar buite???
Julle sal dalk verbaas wees om te hoor dat ‘n gerespekteerde maatskappy soos Microsoft sowaar ander mense se harde werk kon vat en dan daardie “geleende” tegnologie (wat hulle klaarblyklik nie self kon ontwikkel nie), onder hul eie naam bemark… Steve Jobs van Apple was ook ongelukkig hieroor, nadat Bill Gates eenmaal die kantore van Apple besoek het en kort nadat MacOS aan hom gedemonstreer is, vir Windows die lig laat sien het, wat toevallig baie van dieselfde eienskappe gehad het…
Kom ons wees nou maar eerlik: Microsoft het inderdaad baie gedoen vir die skep van ‘n makliker rekenaarervaring vir baie mense en ek dink ons behoort hulle erkenning te gee vir die ontwikkeling wat hulle op die gebied van rekenaars gedoen het, asook hoe hulle die bedryf finansieel help groei het. Dit pla my egter grensloos dat Microsoft self nie meer erkenning gee aan al daardie kleiner outjies wat hulle “gehelp” het (dikwels onwillig of onwetend) om bo uit te kom nie… So waar sou ons vandag sonder hulle gewees het? Meeste mense sou sekerlik met eenknoppie muise gewerk het! Sleutelborde sou minder belangrik gewees het, aangesien Apple reeds van vroeg af ‘n grafiese intervlak in hulle bedryfstelsels gebruik. Dink net… as Bill Gates nooit vir Microsoft gestig het nie: dis soos om te wonder oor ‘n Hitler-vrye geskiedenis… ‘n baie “beter” lewe en meer aangename rekenaarervarings sonder Microsoft? Dalk nie, want hoeveel speletjies werk op Mac OS? Is daar so baie gratis sagteware vir Macs beskikbaar soos vir Windows?
Op grond van diè feite sal mens dus kan sê dat Microsoft allermins in ‘n posisie is om vinger te wys na mense wat hulle produkte kopieer of ontleed om “nuwe” sagteware daarvan se skep… hulle het dit dan self ook gedoen!
Almal wat belangstel in die ontstaan en vroeë ontwikkeling van die persoonlike rekenaar kan gerus bietjie na die volgende tydlyn gaan kyk, en as julle ooit die kans kry om die fliek “Pirates of Silicon Valley” te sien – moet dit nie misloop nie!
http://www.fireinthevalley.com/fitv_chrono_frameset.html