Jy probeer vir die soveelste keer deurdring tot die idiote wat veronderstel is om ‘n (bystands)diens aan jou te verleen… Jy hou maar aan probeer, want anders gaan die probleem nooit reggestel word nie. Selfs al moet jy weereens hoor daar’s niks fout aan hulle kant nie en al laat hulle jou voel asof dit jou skuld (en onkunde) is wat die probleem veroorsaak…
As dit bekend klink moet jy beslis verder lees, want ek het raad! Glo my dit help net eenvoudig nie om jou humeur te verloor en te begin skree op hulle nie, want dan raak die “diens” wat jy kry net nog minder!
Toe my Internetdiensverskaffer onlangs opgehou “diens verskaf” het (en volgens my nie baie aktief aan oplossings vir al hulle probleme gewerk het nie), het ek mooi gepraat, gedreig, kwaad geraak… maar natuurlik geen vordering gemaak nie. Daar was net elke keer ‘n lang lys van verskonings van hulle kant af, want al die probleme was glo buite hulle beheer. Dit is waar ek toe vir myself sê genoeg is genoeg en op die Internet (by die werk) soek na inligting oor verbruikersregte. Gelukkig vir my (en almal van julle wat in dieselfde bootjie sit) maak die Suid-Afrikaanse wette wel voorsiening vir ons regte as verbruikers en daar bestaan ‘n Verbruikersbeskermer!
Ek het die kontaknommer op die onderstaande Webblad geskakel, naamlik 0861 843 384 en hulle het vir my die plaaslike inskakelsentrum se nommer gegee. Daar kon ek ‘n amptelike klag lê teen my Internetdiensverskaffer en hulle het onderneem om die saak te ondersoek. Binne 24 uur het ek ‘n oproep terug ontvang en iemand het my besonderhede en klagte bevestig, waarna hulle die sondebok geskakel en in kennis gestel het van my klagte. Daar is ook verduidelik dat die saak nou vir eers as afgehandel beskou sal word, siende dat die klagte amptelik oorgedra is. Die klagte kan egter weer dadelik geaktiveer word indien nog klagtes ontvang word. Wel tot dusver lyk dit asof my optrede wel die gewensde uitwerking gehad het, want waar ek in die vorige twee maande slegs by uitsondering wel toegang tot die Internet gehad het (dit was werklik amper heeltyd af), is dit nou weer voltyds aan – m.a.w. ek kry nou weer die diens wat daar aanvanklik aan my belowe is en waarvoor ek nog die hele tyd betaal
So dit help nie om net te sit en kerm en kla nie, want dis eers wanneer jy iets doen dat ‘n probleem opgelos (kan) word.
http://www.thedti.gov.za/ccrd/OfficeofConsumerProtection.htm
September 3rd, 2007 at 8:01 pm
Ja, ek het nou jou naam gemis maar wragtag, dit is pragtig. Die storie laat mens sommer luskry en skakel ….
Jy sal gemaklik voel in http://www.bravoland.co.za
Groetnis en nogmaals: Mooi so!
September 3rd, 2007 at 8:09 pm
Ek is verheug om te hoor daar is nog mense wat iets doen aan die swak diens in die Nuwe Suid-Afrika. Ek wonder of hulle klagtes sal hanteer m.b.t diens in Afrikaans? Dit is mos deesdae feitlik onmoontlik om diens te ontvang in Afrikaans.
September 3rd, 2007 at 8:38 pm
Baie dankie, ek dink ek is by dieselfde internetdiensverskaffer as jy, die geel selfoonnetwerk!
Deur die dag is daar geen probleem met die konneksie nie, maar sodra dit aand raak en die inbeldienssentrum sy deure sluit, dan sukkel jy. Jy neem jouself voor, “net mà?re skakel ek hulle en vertel vir hulle hoe baie ongerief hulle vir jou veroorsaak”, maar mà?reoggend werk jou internet weer 100% en jy vergeet van al jou frustrasie die vorige aand.
Ons moet begin aandring op goeie diens, dit gaan nie vanself beter raak nie.
September 3rd, 2007 at 9:08 pm
Mooi man!
Ek het ook op die punt gekom dat ek nie meer stilbly oor swak diens nie. O ja, ek dring aan op Afrikaans
Dankie vir jou bydrae tot ‘n beter Suid-Afrika! Kom kuier gerus by http://www.bravoland.co.za en kyk he ons dinge doen.
September 4th, 2007 at 6:41 am
Dankie. Probeer ook gerus http://www.hellopeter.co.za vir resultate uit diensverskaffers wat omgee. Dis hoe ek sake met my bank uitgesorteer het.
September 4th, 2007 at 8:23 am
Mooi gedaan! Ons moet ophou om die tweede viool te speel! Al is dit net om goeie, Afrikaanse diens te eis!
Ons wil dit he, ons sal dit kry!
groete
September 4th, 2007 at 8:59 am
Dankie man!!
Dit is altyd so makllik om net terug te sit en te kla. Bly om te sien daar is mense wat aksie neem, sonder om negatief en afkrakend te wees.
‘n Persoonlike aanval op die persoon wat help, gaan nie help nie. Onthou geld praat baie. As iemand swak diens lewer, vat net jou afrikaanse geldjies na iemand anders toe… Ons bly tog in ‘n demokrasie of hoe?
Groete
September 4th, 2007 at 9:07 am
Mooi So !
September 4th, 2007 at 9:14 am
Mense, baie dankie vir almal van julle se terugvoer – dit is goed om te weet dat Kuier.co.za darem ‘n effense verskil begin maak in ons lesers se lewens, deurdat ons raad vir julle van waarde is
Terloops, Karina ek is snaaks genoeg nie by daardie diensverskaffer nie, maar dit klink of jy amper soveel frustrasie soos ek deurmaak
Die groot probleem (dink ek) met swak diens in ons land is juis dat meeste mense – ek ingesluit – dikwels maar net die ding so aanvaar en vir onsself sê “ag dis nou weer oraait, so kom ons gaan maar so aan”… en dan dink die mense wat daai swak diens aan ons verskaf dis maar reg om so voort te gaan!
Dankie ook vir daardie skakel na hellopeter, Jaap – ek sal hom beslis onthou!
Groete
Neels.
September 4th, 2007 at 10:46 am
Neels
Welgedaan! Dit lyk my dit is deesdae algemene praktyk om ‘n mens eers tot die hoogste gesag te moet wend om uit grondvloer hulp te ontvang t.o.v. ‘n klagte. Dit is sommer twak! Ek het deesdae die neiging ontwikkel om my dadelik na bestuurders te wend as ek na die tweede keer se kla nog moet sukkel om hulp te ontvang.
Groete
September 4th, 2007 at 10:51 am
Hallo Neels,
ek is nou baie teleurgesteld, want ek het beplan om na ‘n ander “kleur” netwerk te skuif, dalk die blou een, maar natuurlik het ek ‘n kontrak van twee jaar by hulle so ek sal seker maar so moet aankarring, swak diens en al… Maar ek is stadig besig om g@tvol te raak, en hulle moet pasop as hierdie boerkind hulle kantore die dag stormloop – dan sal hulle moet bontstaan!
Sien, nou kla ek alweer, ek moet eerder my energie gebruik om ‘n oplossing te vind!
Groete
Karina
September 4th, 2007 at 12:08 pm
Wel gedaan! Ek het ‘n ruk gelede besluit om te kla as ek nie gelukkig is nie. Veral in restaurante is ‘n mens baie keer gewonge tevrede met swak diens. Alhoewel dit nie altyd ‘n postiewe reaksie tot gevolg het nie, voel ek ten minste beter.
Ons moet nie net alles aanvaar nie, staan op vir wat reg is
Groete
September 4th, 2007 at 12:12 pm
Goeie idee! Miskien moet meer mense iets probeer doen i.v.m. sulke probleme i.p.v. om net rond te sit en kla! ‘n Mens behoort teen hierdie tyd te weet dat daar niks gaan gebeur tensy jy SELF iets daaromtrent doen nie!
September 4th, 2007 at 2:29 pm
Neels, dis wonderlik om te weet dat daar iemand is wat ons wel kan help. Ons raak so gou gewoond aan swak diens dat jy eintlik skuldig voel om te kla.
Deesdae kla ek gerus – ek was 14 jaar lank in die verkope-bedryf en glo my, “customer service”is by jou ge-indoktrineer (spelling?) en kon jy nie ´n voet verkeerd sit nie. So, as ander dit van my verwag het, verwag ek dit definitief van ander. Ek’s net bietjie bang om in restaurante te kla… jy weet nie wat op jou bord is wanneer jy dit terugkry nie!
September 4th, 2007 at 4:00 pm
Ja dit is so waar Bev, en die ander ding wat my pla is dat mens altyd moet WAG vir dinge om te gebeur, maar almal verwag van JOU om dadelik na HULLE behoeftes om te sien…
Is daar enige iemand wat dit nog nie so ervaar het nie?
September 4th, 2007 at 4:12 pm
Neels, dit is ‘n baie boeiende artikel.
Mens betaal vir ‘n diens en ontvang dit nie. Die maatskappye se uitgangspunt en miljoene rande se advertensie veltogte gaan oor die uitstekende produk en diens wat jy ontvang. Hoeveel keer is dit wat mens werklik kry waarvoor jy betaal en werklik gehelp word as die produk gelewer nie voldoen aan verwagting nie.
Ek is ook GATVOL vir leë beloftes wat my geld kos deur magnate wat die mark probeer versit en nie kompenseer vir probleme en voorsiening maak vir hulle onvoldoende beloftes nie.
Dankie Neels.
August 24th, 2009 at 7:18 pm
Jislaaik, ek is bly om te sien dat daar darem nog mense is wat nie tevrede is met swak diens nie. Ek het al begin voel dat ek die enigste een is wat n ou kla-kous is.
Ek weet ook nie of ek my verbeel nie, maar in die binneland is diens oor die algemeen swakker as by die kus – miskien omdat die mense hier meer “ge-stress” is. Dan vergelyk ek nie eens met diens van plekke soos Europa nie.
Hoe gemaak as jy vir maande oor dieselfde ding by n restaurant kla en die bestuurder laat weet vir jou dmv n kelner hy wil nie met jou praat nie omdat hy al gewoond geraak het daaraan dat jy kla en dat, as jy nie tevrede is nie, jy maar n ander restaurant moet gaan opsoek.
Die ironie lê daarin dat ander mense dieselfde probleme daar ondervind en niks daaromtrent sê of doen nie.