Amerikaanse navorsers het ‘n uiters ligte, buigbare, bio-afbreekbare battery ontwikkel… in die vorm van ‘n stuk papier! Nou kan ek net dink hoe ‘n groot omwenteling dit gaan veroorsaak op die gebied van battery-afhanklike elektronika! Selfone wat nog kleiner en ligter is… digitale kameras… skootrekenaars sonder die ekstra gewig van ‘n massiewe battery (wat in elk geval nie baie lank hou nie)…
Die nuwe litium-ioonbatterye is gebou met behulp van nano-tegnologie, wat maar eintlik net beteken dat alles waaruit dit bestaan ongelooflik klein is
Die besonderse aard van die batterye beteken ook dat as ‘n toestel meer krag nodig het, kan jy meer as een “bladsy” (battery) op ‘n ander een stapel! Die batterye kan selfs opgerol, of in enige ander vorm gevou word. Ja-nee, dis nou voorwaar tegnologie wat agteroor buig om ‘n diens te lewer!
As mens nou so 500 “bladsye” ophoop en in karton verpak, soos wat jy papier in die winkel koop, behoort dit genoeg krag uit te gee om battery-aangedrewe motors redelik lank aan die gang te hou, sonder dat jy te veel gewig bysit of al die ruimte in beslag neem. So, dink nou net aan ‘n “groen” motor met twee dose op die agtersitplek wat die hele land vol reis!
Blykbaar kan die batterye ook as ‘n tipe “superkapasitor” werk en selfs bloed en sweet gebruik as aanvullende kragbron… so as die “papier” begin pap raak druk jy net ‘n draadjie by een van jou polse in en siedaar – jy kan vir nog so ‘n paar ure lank werk
http://www.physorg.com/news106245164.html