Afrikaans

Kuier Saam in Afrikaans

Argiewe vir 'Afrikaans' Category

Afrikaans

Bobby se Boemelaar Fonds


Gerhard - Afrikaans, Musiek

AfrikaansDit is altyd opwindende nuus as daar ‘n nuwe Afrikaanse sanger sy of haar verskyning maak, maar wat dit nog beter maak is as die kunstenaar se hart ook op die regte plek sit.

Bobby van Jaarsveld het 3 jaar gelede die Afrikaanse musiek bedyf betree en het al klaar die koppe laat draai van die groot name soos Dozi, Blackie Swart en Theuns Jordaan.

Die ding wat my aandag die meeste getrek het toe ek vir die eerste keer na sy webwerf toe gegaan het was die feit dat hy ‘n gedeelte van die hoof blad afgestaan het aan welwillendheid.

Dit is die Bobby van Jaarsveld boemelaar fonds en werk soos volg:

“SMS FORUM na 38655 (R10 per SMS)
50% van die SMS bydraes gaan na Solidariteit se Helpende Hand Fonds en die ander 50% van die sms bydraes gaan aan die Salvation Army omdat dit die instansie waarheen meeste van die boemelaars gaan wanneer hulle honger is of ‘n slaapplek nodig het.”

Ek dink Bobby is ‘n goeie voorbeeld vir die res van die Afrikaanse musiek gemeenskap!

http://www.bobbyvanjaarsveld.co.za/

afrikaans, boemelaars, fonds, help

Afrikaans

Onlogika die Logiese Probleem!


Neels - Afrikaans, Probleemoplossing

AfrikaansVoor ons verder gaan wil ek net sê ek is bewus daarvan dat die woord “onlogika” nie regtig in die Afrikaanse taal bestaan nie… wel nie tot voor vandag nie – so kopiereg van daai een is myne ;-)

Ek dink ek het al voorheen hierdie vraag gevra, maar tot dusver nog geen antwoord daarop gekry nie: Hoe werk party mense se breine??? Die hoofrede vir die vraag is na aanleiding van daardie skietvoorval by Virginia se Tegniese Universiteit in die VSA waar ‘n persoon met ernstige sielkundige probleme eenvoudig net soos enige iemand anders by ‘n vuurwapenhandelaar kon instap en ‘n wapen koop, waarmee hy toe ‘n klomp mense gaan afmaai en daarna selfmoord pleeg… Dit het gebeur nadat verskeie mense na bewering vir die Universiteitspersoneel en andere gewaarsku het oor die man se geestestoestand en dat hy ‘n gevaar is! So wat my punt hier betref: Die VSA is so vreeslik sekuriteitsbewus – dikwels grensend aan paranoia, maar tog laat hulle toe dat enige iemand ‘n vuurwapen kan koop! Hoe werk die logika daaragter?

By die padwerke aan die Bottelary pad is daar bordjies uitgepak wat mens verhoed om by die kruising waar jy afdraai oppad Stellenbosch toe op die regs-draaibaan te kan stop… Gevolglik is daardie sensors wat die verkeerslig se regsdraai pyltjie aktiveer uitgeskakel en dit het die verkeer nogal erg belemmer. Wat het die ouens wat die opdrag gegee het om daardie baan toe te maak tot OP DAARDIE KRUISING gedink??? Dit terwyl hulle nog nie eers naby aan die kruising gewerk het nie! Vanoggend was die borde verder weg geskuif en het daardie pyltjie vir die eerste keer in maande weer gewerk :-)

Terwyl ons praat van logika moet ek my werksveld beslis ook hierby insluit aangesien rekenaars gebou is op logika! Dis wat dit so frustrerend maak wanneer hulle meer dikwels “onlogies” reageer… So wie of wat blameer ons daarvoor? Weereens die menslike faktor, want dit is mense wat aan rekenaars hulle logika verskaf en dis daardie selfde mense wat foute maak met die einste logika ;-) So volgende keer as iemand vir jou sê “jammer meneer/mevrou maar dis as gevolg van ‘n rekenaarfout…” kan jy met die grootste oortuiging antwoord “Ek is jammer om te hoor dat julle rekenaar ook ‘n slagoffer is van die Onbekwame-Mens-Sindroom epidemie wat deesdae wêreldwyd opgemerk word!” Baie van die rekenaarprobleme waarna ek moet gaan omsien is ook as gevolg van ‘n gebrek aan logika aan die gebruikers se kant. Snaaks hoe die eenvoudige, logiese benadering meestal selfs die ingewikkeldste probleem kan laat verdwyn…

Wat was daardie bekende gesegde van Sherlock Holmes…. “Elementary my dear Watson…”, oftewel “Basiese beginsels my liewe Watson…” – ja basiese beginsels… inderdaad!

Soos ek vanoggend per Yahoo kitsboodskap vir Gerhard gesê het is ek vandag op ‘n selftoegekende “sending” om soveel as moontlik probleme opgelos te kry, so laat ek nou eers weer voortgaan daarmee, want daar is nog ongeveer 1,345,261,789,021.5 probleme oor in die wêreld wat na oplossings soek… Is daar enige van julle wat aanbied om my te help met hulle?

LW dat bogenoemde syfer slegs ‘n baie wilde raaiskoot is en werklike getalle waarskynlik baie anders lyk. Die “.5″ is omdat ek al die “half-opgeloste” probleme in ag neem en reken dat selfs al tel jy die halwes almal bymekaar en kry elke keer ‘n volgetal sal daar nog altyd êrens ‘n probleem wees wat nie ten volle opgelos is nie ;-)

Hier is so ‘n klompie lekker logika oefeninge en speletjies om daardie ou breinstof na al die regte plekkies te laat vloei – toe nou mense dink bietjie logies:

http://www.rinkworks.com/brainfood/

logika, probleme, opgelos, speletjies

Afrikaans

Egmond is Terug!


Gerhard - Afrikaans, Musiek

AfrikaansDit was ongeveer ‘n jaar gelede wat ek die eerste keer uitgevind het van Edmond, ‘n belowende jong Afrikaanse sanger. ‘n Tydjie later het hy omtrent heeltemal uit sig uit verdwyn en daar was geen nuwe nuus uit sy oord uit nie.

Dus was ek baie bly om in die week ‘n E-pos te kry wat my vertel het van die nuwe webwerf en wat Egmond besluit het om te doen daarop… Jy kan nou sy hele album aflaai van sy webwerf af in mp3 formaat… heeltemal gratis!

Daar is ook nuwe toer datums op die webwerf, so as jy in die nabye area is, kan jy ook vir Egmond in lewende lywe sien optree.

Elk wens meer kunstenaars wil sy voorbeeld volg en vir ons gratis musiek gee :)

http://www.egmond.co.za/

egmond, musiek, afrikaans, gratis mp3

Afrikaans

Krieket: SA teen Sri Lanka


Neels - Afrikaans, Sport

AfrikaansLasith Malinga? Wie’s Hy? Na diè Sri Lankaanse snelbouler met die baie eienaardige boulaksie se asembenemende rekord vier-paaltjies-in-vier-balle gisteraand, waartydens hy die Proteas letterlik ontwortel het, sal min krieketliefhebbers daardie vraag weer vra! Ja nee, na ons manne teen die Aussies vasgeval het was ek huiwerig om weer oor die wêreldbeker krieket te skryf, maar wie kan nou net stilbly na die groot opwinding van daardie laaste paar beurte gisteraand!!! Met sy derde agtereenvolgende paaltjie het hy slegs die vyfde speler geword om ‘n driekuns in internasionale eendagkrieket te behaal – iets wat opsigself al ‘n prestasie is! Terloops, net vir die wat nie die wedtryd gesien het nie en dink die rekord was as gevolg van nog ‘n ineenstorting van ons kolwers… dit was… maar Malinga se uitstekende boulwerk het daardie ineenstorting veroorsaak – nie swak kolfwerk nie :-) Die glimlaggie is nie oor ons kolwers swaargekry het nie – dit is oor die pure genot wat enige krieketgeesdriftige uit sulke puik, onspeelbare boulwerk sal put!

Ek wil darem net by sê dat die Protea kolwers hulle (na my mening) goed van hul taak gekwyt het en wat die boulwerk betref, het Charl Langeveldt beslis sy vyf paaltjies verdien – wel gedaan!

(In die foto hier bo skud Lasith Malinga en Charl Langeveldt hande na SA se 1 paaltjie oorwinning oor SL)

Hier is Lasith Malinga se krieket loopbaaninligting:

http://content-usa.cricinfo.com/srilanka/content/player/49758.html

Kyk dan ook gerus na gister se telkaart… maar as jy die kans kry om hoogtepunte van daardie vertoning te sien – moet dit nie mis nie!

http://cricketworldcup.indya.com/scores/html/live/sasl2803.html

krieket, wêreldbeker, rekords, driekuns

Afrikaans

Nicholis Louw DVD Nuus


Gerhard - Afrikaans, Musiek

Afrikaans“Nicholis se DVD wat op 2 Mei 2006 by die Sand du Plessis in Bloemfontein voor ‘n gehoor opgeneem is het al amper Platinum status bereik.

Dit is die top verkoper van enige Afrikaanse DVD tans in Suid-Afrika. Wat dit nog meer indrukwekkend maak is dat net Pink Floyd en Elvis op die oomblik beter as Nicholis verkoop. Beslis ‘n deurbraak vir Afrikaanse DVD’s.”

Shoe, dit is omtrent ‘n prestasie, as verkope enige aanduiding is van sy populariteit, dan is Nicholis Louw een populêre persoon.

Sy musiek het die land met ‘n storm gevat en hou net aan om aanhangers se oordromme te streel met die klanke van Afrikaans. :)

http://www.platinumpromosies.co.za/artist.php?artid=7

nicholis louw, afrikaans, musiek, verkope

Afrikaans

Bob Woolmer Huldeblyk


Neels - Afrikaans, Sport

AfrikaansVan my kant af wil ek net namens Kuier.co.za ons meegevoel oordra aan die familie van Mnr Bob Woolmer – die geliefde voormalige krieketspeler en afrigter van verskeie spanne, insluitend daardie baie suksesvolle Suid-Afrikaanse span van die middel-tot-laat 90’s. Daar is seker min krieketliefhebbers wat nie geraak is deur Mnr Woolmer se skielike afsterwe nie, en ek is seker dat almal sal saamstem hy was ‘n wonderlike sportman, beide op en langs die veld, en ook ‘n spesiale mens – iemand wie jy met trots ‘n vriend sou noem as jy so gelukkig was om hom te ken!

Sy afwesigheid sal beslis gevoel word in die krieketwêreld, waar hy ook baie gedoen het om die kleiner, onervare spanne en spelers te bevorder. Die resultaat van sy harde werk op hierdie gebied was juis, ironies genoeg, te sien in die laaste wedstryd waarby hy betrokke was, op die dag voor sy dood, toe Ierland vir Pakistan (wie se afrigter Mnr Woolmer op daardie tydstip was) in hul wêreldbeker wedstryd geklop het!

Oom Bob, ons gaan jou mis… dankie vir dit wat jy vir krieket gedoen het, en vir jou bydrae tot die wonderlike manier waarop die SA span ons gedurende die 90’s vermaak het! Dankie ook vir dit wat jy as mens vir ander mense gedoen het…

Robert Andrew “Bob” Woolmer (14 Mei 1948 – 18 Maart 2007)

http://en.wikipedia.org/wiki/Bob_Woolmer

Sy krieket loopbaan:

http://content-usa.cricinfo.com/ci/content/player/22520.html

bob, woolmer, krieket, huldeblyk

Afrikaans

Nog net 3 dae…


Gerhard - Afrikaans, Notas

Afrikaans

Daar is nog net 3 dae oor om vir Kuier.co.za te stem vir die “SA Blog Awards”, dit beteken dat na hierdie inskrywing mag jy nog een keer van my hoor hierdie jaar, en dit sal wees om die wenners aan te kondig.

As jy nie weet waarvan ek praat nie, Kuier.co.za is genomineer vir 2 toekennings in die “SA Blog Awards”. Die eerste is die “Beste Suid Afrikaanse Musiek Blog” afdeling en dan ook die een wat ek die graagste wil hê, die “Beste Blog Ontwerp”.

Om te stem kan nie makliker wees nie. Gaan net na die “SA Blog Awards” webwerf, tik die knoppies van die webwerwe wat jy dink moet wen in elke afdeling, vul jou e-pos adres in en druk op “Stuur”. En maak seker dat jy op die skakel klik in die E-pos wat dan vir jou gestuur word.

Kom ons wys hulle waar Afrikaanse Internet gebruikers se harte lê! ;)

http://2007.sablogawards.com/

Afrikaans

Die Beyerskloof Musiek Marathon


Gerhard - Afrikaans, Musiek

Afrikaans

Vir die eerste keer in baie jare begin die musiek wat deur die ondergrondse are van Stellenbosch klop, weer mense se wenkbroue te lig.

De Plate Kompanjie en Beyerskloof span saam om vir die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis ‘n weeklange musiek marathon op die planke te bring wat mik om die verskillende musiekfaksies en tale in die bedryf te verenig en vir luisteraars en ondersteuners ‘n unieke ervaring te bring.

Die Beyerskloof Musiek Marathon is ‘n weeklange fees wat musiek vanoor ‘n wye spektrum bymekaar bring om aand na aand gehore te vermaak deur ‘n klomp groepe te laat optree wat iets met mekaar in gemeen het. Studente, skoliere en werkendes kan dus hul werk deur die dag afhandel en dan elke aand kom ontspan om van die land se grootste name saam met nuwe talente te sien optree. Van MK89 gunstelinge, tot teater nuwelinge en selfs ‘n paar veterane.

  • Maandag is die akoestiek gedrewe Afrikaanse Rock Aand met Gian Groen, Lukraaketaar, Slagyster en Kaleidoskoop.
  • Dinsdagaand span Jan Blohm, DNA Strings, The Orange Stilettos en Die Hartvruggies saam vir ‘n unieke ervaring van instrumente en lirieke.
  • Woensdagaand is skank aand met die ska-en reggaeklanke van 7th Son, Captain Stu and the Llamas, Rastamie and the Warriors en Go Team!.
  • Donderdagaand is die blues aan die beurt met Boulevard Blues, Southern Gypsy Queen, Gerald Clark en The Violent Free Piece. Dale Collins is gaskunstenaar.
  • Vrydagaand is die groovy-kopstamp aand met Bed on Bricks, Die Helde, Foto Na Dans en Sondag Sensasie.
  • Die week word die Saterdagaand afgesluit met akoestiek en rock van Koos Kombuis, Rory Eliot, Zinkplaat, Dikazzins en Hanru Niemand.

Die Marathon vind plaas by die Klein Libertas Teater se buiteverhoog. Die musiek begin elke aand om 19:00, en Saterdag om 18:00.

Kaartjie pryse beloop R30 per aand of R100 vir die week. Kaartjies kan by die DPK Hossewa gekoop word in Die Neelsie, by Beyerskloof en by Klein Libertas Teater. Die groepe se albums sal te koop wees.

Hoeveel gees het jy?

Vir navrae kontak Bertie Coetzee 083 349 9559 of bertie@dpk.co.za

Afrikaans

Philip de Villiers Nuus


Gerhard - Afrikaans, Musiek

Afrikaans‘n Nuwe anti-misdaad musiekvideo vir Philip de Villiers se lied “Ek hoor jou”, vervaardig deur die bekroonde regisseur Andre Calitz, sal eersdaags op verskeie kanale (MK89, kykNET en SABC2) begin wys.

Die lied speel reeds op 30 radio-stasies landwyd. Die produksiemaatskappy is opsoek na mooi portret-foto´s van slagoffers wat in misdaad-verwante voorvalle gesterf het. Die doel is om ´n stem te gee aan die families van hierdie mense, asook die slagoffers, in ´n land waar hulle voel hulle word nie deur die regering gehoor nie, om sodoende wonde te genees.

Die video sal geensins soetsappig of sensasie-gedrewe wees nie. Hulle wil ons pragtige land met sy pragtige mense in kontras plaas met die lelike realiteit waarmee ons daagliks te doen het.

Foto’s kan gestuur word aan foto@blixem.co.za Sluit kontakbesonderhede in, sodat daar geverifieer kan word dat die betrokke persoon op die foto wel gesterf het. ´n Voorlopige weergawe van die video kan gesien word by www.blixem.co.za/pip.wmv

philip de villiers, ek hoor jou, afrikaanse musiek, suid afrika

Afrikaans

Fokofpolisiekar Nuus


Gerhard - Afrikaans, Musiek

AfrikaansFokofpolisiekar se amptelike webwerf is nou al vir ‘n hele tydjie nog nie opgedateer nie, en die rede hiervoor is dat die manne dit “rustig” vat hierdie jaar.

Al die lede van Fokofpolisiekar is besig met hulle eie projekte op die oomblik en dit bring ons na die rede vir vandag se inskrywing. :)

Francois van Coke (vir die van julle wat nie weet nie, hy is die sanger van Fokofpolisiekar) gebruik hierdie tyd om ‘n paar solo optredes te doen en die groep se myspace is nou opgedateer met die datums vir al hierdie optredes.

As ek na daardie lys kyk, lyk dit vir my asof Francois ‘n besige man gaan wees vir die volgende twee of drie maande…

http://www.myspace.com/fokofpolisiekarband

fokofpolisiekar, swanesang, van coke, francois



Teken In
Advertensie
Skakels Skakels na Kuier.co.za

# afrikaans ?

Kuier Saam in
Afrikaans