Sluit in September aan by die wêreld se beste skerpskertsers en geniet ‘n jolige tydjie by die Cape Town International Comedy Festival – Suid-Afrika se voorste komediefees wat vanjaar sy elfde bestaansjaar in die Moederstad vier.
Met sewe aparte programme om uit te kies, bied die fees vanjaar iets wat in elkeen se smaak sal val – of jy nou hou van komedie op ‘n verhoog, op ´n skerm of selfs op straat! Die skerpskertsers wat vanjaar deelneem kom van Britanje, die VSA, Kanada, Duitsland en Australië en by hulle sluit Suid-Afrika se beste nuwe komedie-sterre aan, insluitend David Newton, Riaad Moosa, Nik Rabinowitz, Dowwe Dolla, Michael Naicker en die gewilde duo van Joe Barber-faam, Oscar Petersen en David Isaacs.
Soos in die verlede gaan die fees se staatmakers, naamlik die Main Arena en die Danger Zone, by die Baxter plaasvind, terwyl ´n opwindende nuwe program met die beste plaaslike Afrikaanse komedie – Bek-Lash – sy debuut by die Kunstekaap Teater maak.
Bek-Lash gooi die talente van Tobie Cronje, Dowwe Dolla, Joey Rasdien, Marion Holm, Martin Jonas, Emo Adams en die Joe Barber-duo saam met diè van Steve Best, ´n gewilde Britse skerpskertser bekend vir sy fisiese komedie. Met die bekroonde Lara Bye as regisseur neem Bek-Lash die formaat van ´n tipe vaudeville- of kabaretvertoning aan met die gewilde musikale komediant Pedro Kruger as gasheer.
Die Main Arena-program van skerpskertsers het die bekende Britse komediant Alistair Barrie as gasheer. Hy gaan Kaapse gehore bekendstel aan die Australianer Carl Barron, die Kanadees Laurie Elliott en die Amerikaner Tom Clark. Saam met hulle op die program is Suid-Afrika se voorste skerpskertsers Nik Rabinowitz, David Newton en Riaad Moosa.
Een van die jarelange groot gunstelinge op die fees, die Danger Zone, bied komedie vir meer avontuurlustige gehore wat van ´n meer gewaagde benadering tot humor hou. Op vanjaar se program is die Australianer Jim Jefferies wat in Britanje gebaseer is en beskou word as een van die beste opkomende komedie-sterre. Hy het aan die 2005 Cape Town International Comedy Festival deelgeneem. Saam met Jefferies tree sy mede-Australianer Steve Hughes op sowel as die Amerikaner Bert Kreischer en die Kanadees Terry Clement. Die Danger Zone-program behels ook die Suid-Afrikaner Kevin Perkins en sy alter ego, Michael Naicker, wat dwarsoor Suid-Afrika bekend is as die op-die-man-af “superheld van die man op straat”.
Die veteraan organiseerder van die fees, Sam Hendrikse, is in sy noppies met die verskeidenheid komiese talent wat by vanjaar se fees aangebied word. “Ons het werklik iets vir almal – van die nar-agtige koddighede van die straatkomediante wat kinders en grootmense gaan amuseer, tot die meer gesofistikeerde humor van die top internasionale skerpskertsers wat deel is van die Main Arena en Danger Zone-programme. Ons is ook opgewonde om die eerste Afrikaanse verhoog by die fees aan te bied met ons plaaslike komediante in die Bek-Lash-program,” sê Hendrikse.
Nog ´n nuwigheid op vanjaar se program is die insluiting van ´n mini filmfees, Comedy Shorts, wat die wêreld se beste komiese kort films by die Labia Teater gaan vertoon. Dit word in samewerking met Just For Laughs, die grootste komediefees in Kanada, aangebied en bestaan uit twee programme, naamlik Funny Shorts en Filthy Shorts. Net soos met die Main Arena-program bied Funny Shorts die beste hoofstroom kort films op vanjaar se Just For Laughs-program, terwyl Filthy Shorts bestaan uit ´n verskeidenheid kort films met alternatiewe humor deur van die wêreld se gekste filmmakers. “Laasgenoemde films is nie vir die preutses bedoel nie en hulle gewaagdheid sal eerder groter aanklank vind by die Danger Zone-gehore,” verduidelik Hendrikse.
“Soos wat die Cape Town Comedy Festival internasionale opgang maak, is dit van selfsprekend dat samewerking met ander internasionale komediefeeste begin posvat en ons is baie opgewonde om die Comedy Shorts-program saam met Montreal se Just For Laughs-fees aan te bied.”
Vanjaar se fees bied weereens ´n aantal rare straatkomediante wat niksvermoedende Kapenaars gaan vermaak as deel van die Street Comedy Festival, wat die ongelooflike komiese talente van die straatkunstenaars van stede dwarsoor die wêreld gaan vertoon.
Gehore wat belangstel in ´n voorsmakie van die gewildste optredes by al die vertonings sal dit kan kry àf Woensdagaande by The Late Show by die Bang Bang Club àf by die Best of the Fest wat Sondagaande gedurende die fees by die Baxter Teater aangebied word.
Die Main Arena-program by die Baxter Teater duur van 3 tot 22 September, die riskante Danger Zone-program by die Baxter-konsertsaal duur van 10 tot 22 September en Bek-Lash is by die Kunstekaap Teater van 4 tot 22 September. Die Comedy Shorts filmfees is aan by die Labia Teater van 3 tot 22 September. Besoek www.comedyfestival.co.za vir ´n program van al die verskillende vertonings en ´n volledige lys van die sensasionele internasionale en plaaslike skerpskertsers. Bespreek by Computicket.