Jy stap in by jou huis na ‘n asemrowende vakansie in die wildernis… jy sit jou relatief nuwe digitale kamera, propvol foto’s van jou gesin se avonture, op die koffietafel neer en daar vlieg honderde herinneringe voor jou oë van die kamera af tot op die tafelblad! Ouma Susie het ook gou kom inloer en wil graag ‘n paar foto’s van die kinders hê om vir haar vriendinne by die naaldwerkklub te wys, so jy vra haar om haar selfoon op die tafel neer te sit en siedaar – tien oulike kiekies vlieg binne ‘n oogwink oor tot op die foon…
Dit raak al laat en almal is honger, maar wat gaan die maklikste en vinnigste wees om nou te maak vir aandete, met die paar goedjies wat oor is in jou koskaste? Geen probleem nie! Roep so ‘n paar spyskaarte en resepte op die kombuistafel op en sommer gou-gou versprei die heerlike geure van die stoof af deur die res van die huis, soos wat ‘n koningsmaal begin vorm aanneem…
Klink dit asof ek ‘n ooraktiewe verbeelding het? Miskien het ek… maar dit is ‘n heel ander storie
Wat hierdie storie betref is my entoesiasme gegrond op feite – wetenskaplike feite!
Ek weet dat ek self al vir Microsoft baie gekritiseer het oor hul gebrek aan oorspronklike idees en innovering, maar hier moet ons (ek ingesluit) vir hulle ‘n pluimpie gee, want die stukkie tegnologie gaan ongetwyfeld ‘n omwenteling in mense se lewenswyses te weeg bring! Hoe die ding basies werk is jy het ‘n tafel met ‘n ingeboude rekenaar, kameras en sensors onder die blad wat soos ‘n baie intelligente skandeerder werk en wanneer mens byvoorbeeld ‘n digitale kamera op die tafel neersit, lees die kameras ‘n digitale “etiket” in die toestel om uit te vind wat dit is. Daarna neem dit die toepaslike aksie… Net so gaan eetplekke ook baatvind hierby, want dit sal moontlik wees vir klante om ‘n spyskaart op die tafel op te roep, hul bestelling te plaas en dan op daardie selfde tafel te eet!
Wat dit nog meer besonders maak, is die veelvuldige-interaksiepunt-tegnologie wat meer as een persoon in staat stel om gelyktydig daarop te werk. Dus kan jy (anders as op huidige rekenaars) verskeie opdragte aan die rekenaar (tafel) gee op presies dieselfde tydstip. Microsoft het blykbaar Windows Vista geneem en bietjie aangepas om op die tafel te werk… (eers venters, nou tafels… wat is volgende?). Die enigste rede hoekom ek nie dadelik sal hardloop en een gaan koop nie, is die prys: Ongeveer R35,000 vir die “goedkoop” model, en R70,000 vir die duurder een!!!
So dit wat ek nou gaan sê kan moontlik swaar donderstorms of selfs sneeu by die Ewenaar veroorsaak, maar ek moet dit sê: Mooi so, Microsoft! Dit lyk of die toekoms reeds hier is
Kyk gerus na die volgende video en lees wat die Popular Mechanics tydskrif daarvan dink (Wees gewaarsku – die video is nogal groot – ongeveer 30MB – en sal lank neem om te laai op ‘n stadige Webverbinding!!!):
http://www.popularmechanics.com/technology/industry/4217348.html
Vir verdere inligting, uit die perd se bek as’t ware, kan julle Microsoft se amptelike “Surface” webwerf ook besoek – dit het my werklik beindruk:
http://www.microsoft.com/surface/
tafelblad, foto’s, gelyktydig, rekenaar