Afrikaans

Kuier Saam in Afrikaans

Argiewe vir 'Sport' Category

Afrikaans

Asemrowende Foto’s uit China


Gerhard - Interessanthede, Sport

AfrikaansYep dit is alweer daardie tyd. Die Olimpiese Spele is hier en China het vir ons ‘n asemrowended verwelkoming gereel!

Daar was baie negatiewe dinge gesê oor China in die media die afgelope paar maande, maar hierdie mense weet hoe om dinge te laat gebeur en daar voor moet ons ons hoed vir hulle afhaal. (in my opinie).

Vandag se webwerf het ‘n hele paar foto’s van die openings seremonie op :D

http://www.boston.com/bigpicture/2008/08/2008…

china, olimpiese, spele, sport

Afrikaans

Is Sportprestasie Jou Lewe Werd?


Neels - Nuusagtig, Sport

AfrikaansMense wat na ‘n maraton inmekaarsak en sterf… of teen hoë snelheid op die resiesbaan verongeluk… ons lees al te dikwels sulke berigte in die koerante of sien dit op die TV nuus.

Nou, na aanleiding van die pas afgelope Comrades met nog so ‘n sterfte waar iemand letterlik sy laaste krag gebruik het om oor die wenstreep te beur, kan ek nie anders as om te vra – is die eindresultaat so ‘n opoffering werd? Behoort enige iemand jouself so hard te druk of so ‘n groot kans te waag met jou lewe, net in die naam van prestasie?

Selfs in skolesport word al meer en meer kinders ernstig beseer (of erger) omdat hulle tot die uiterste gaan vir hulle sport. Wat het geword van die ou benadering dat mens sport doen vir ontspanning en om jouself te geniet? Gaan dit ook deesdae net oor die geld en roem? In die laerskole al???

Ja, daar hang dalk nou ‘n goue medalje of staan ‘n reusagtige trofee in ‘n kabinet êrens as bewys van die hoogste sport wat iemand bereik het, maar wat help dit as die persoon wie se naam op daardie goud verskyn nie meer leef om dit te kan aanskou nie?

Hier is ‘n lys van mense wat in motorrenne alleenlik omgekom het, waarvan ek een ongeluk – die van Ayrton Senna op TV sien gebeur het:

http://www.answers.com/topic/list-of-racing-drivers-who-died-in-racing…

Natuurlik is daar nog hope ander sportsoorte wat veel meer lewens eis, maar die renjaer lysie is alreeds lank genoeg as ek hom so kyk!

Hier is ook ‘n webwerf waar mens kan sien watter sportpersoonlikhede op hierdie dag in die geskiedenis gesterf het, maar dit lyk darem asof meeste van hulle nie tydens die beoefening van hul sport die lewe verlaat het nie.

http://www.todayinsport.com/deaths.php

sterf, sport, prestasie, opoffering

Afrikaans

Krieket: SA teen Sri Lanka


Neels - Afrikaans, Sport

AfrikaansLasith Malinga? Wie’s Hy? Na diè Sri Lankaanse snelbouler met die baie eienaardige boulaksie se asembenemende rekord vier-paaltjies-in-vier-balle gisteraand, waartydens hy die Proteas letterlik ontwortel het, sal min krieketliefhebbers daardie vraag weer vra! Ja nee, na ons manne teen die Aussies vasgeval het was ek huiwerig om weer oor die wêreldbeker krieket te skryf, maar wie kan nou net stilbly na die groot opwinding van daardie laaste paar beurte gisteraand!!! Met sy derde agtereenvolgende paaltjie het hy slegs die vyfde speler geword om ‘n driekuns in internasionale eendagkrieket te behaal – iets wat opsigself al ‘n prestasie is! Terloops, net vir die wat nie die wedtryd gesien het nie en dink die rekord was as gevolg van nog ‘n ineenstorting van ons kolwers… dit was… maar Malinga se uitstekende boulwerk het daardie ineenstorting veroorsaak – nie swak kolfwerk nie :-) Die glimlaggie is nie oor ons kolwers swaargekry het nie – dit is oor die pure genot wat enige krieketgeesdriftige uit sulke puik, onspeelbare boulwerk sal put!

Ek wil darem net by sê dat die Protea kolwers hulle (na my mening) goed van hul taak gekwyt het en wat die boulwerk betref, het Charl Langeveldt beslis sy vyf paaltjies verdien – wel gedaan!

(In die foto hier bo skud Lasith Malinga en Charl Langeveldt hande na SA se 1 paaltjie oorwinning oor SL)

Hier is Lasith Malinga se krieket loopbaaninligting:

http://content-usa.cricinfo.com/srilanka/content/player/49758.html

Kyk dan ook gerus na gister se telkaart… maar as jy die kans kry om hoogtepunte van daardie vertoning te sien – moet dit nie mis nie!

http://cricketworldcup.indya.com/scores/html/live/sasl2803.html

krieket, wêreldbeker, rekords, driekuns

Afrikaans

Bob Woolmer Huldeblyk


Neels - Afrikaans, Sport

AfrikaansVan my kant af wil ek net namens Kuier.co.za ons meegevoel oordra aan die familie van Mnr Bob Woolmer – die geliefde voormalige krieketspeler en afrigter van verskeie spanne, insluitend daardie baie suksesvolle Suid-Afrikaanse span van die middel-tot-laat 90’s. Daar is seker min krieketliefhebbers wat nie geraak is deur Mnr Woolmer se skielike afsterwe nie, en ek is seker dat almal sal saamstem hy was ‘n wonderlike sportman, beide op en langs die veld, en ook ‘n spesiale mens – iemand wie jy met trots ‘n vriend sou noem as jy so gelukkig was om hom te ken!

Sy afwesigheid sal beslis gevoel word in die krieketwêreld, waar hy ook baie gedoen het om die kleiner, onervare spanne en spelers te bevorder. Die resultaat van sy harde werk op hierdie gebied was juis, ironies genoeg, te sien in die laaste wedstryd waarby hy betrokke was, op die dag voor sy dood, toe Ierland vir Pakistan (wie se afrigter Mnr Woolmer op daardie tydstip was) in hul wêreldbeker wedstryd geklop het!

Oom Bob, ons gaan jou mis… dankie vir dit wat jy vir krieket gedoen het, en vir jou bydrae tot die wonderlike manier waarop die SA span ons gedurende die 90’s vermaak het! Dankie ook vir dit wat jy as mens vir ander mense gedoen het…

Robert Andrew “Bob” Woolmer (14 Mei 1948 – 18 Maart 2007)

http://en.wikipedia.org/wiki/Bob_Woolmer

Sy krieket loopbaan:

http://content-usa.cricinfo.com/ci/content/player/22520.html

bob, woolmer, krieket, huldeblyk

Afrikaans

Wêreldbeker Krieket: SA teen NL


Neels - Sport

AfrikaansMeeste mense het sekerlik verwag dat Suid-Afrika hulle Wêreldbeker krieketwedstryd Vrydag teen Nederland sou wen, so ek dink toe AB de Villiers in die eerste beurt vir 0 uit is was daar baie Protea-ondersteuners wat effens kriewelrig begin raak het! Gelukkig was dit die enigste laagtepunt van die wedstryd vir ons span :-)

Ja Herschelle Gibbs was weer ‘n slag aan die brand en daardie rekord ses-sesse-in-’n-boulbeurt van hom beteken dat Habitat for Humanity nou $1 miljoen ryker is! Mark Boucher se vinnigste 50 in ‘n WB wedstryd het gesorg vir nog ‘n toevoeging tot Guinness (soos hy ook bekendstaan) se alreeds lang lys wêreldrekords, en verder was daar nog ‘n hele klomp ander rekords wat geswig het onder die Proteas se aanslag!!!

Die Nerderlanders wat my meeste beindruk het was hul aanvangsbouler, Billy Stelling, wat op ‘n stadium vir Boland gespeel het, en ook Ryan ten Doeschate het regtig goed gelyk tydens sy kolfbeurt!

Verder was dit interessant (en verblydend vir my) om te sien dat Bangladesh ‘n goeie oorwinning oor Indië behaal het, en so ook Ierland teenoor Pakistan.

Sondag se terugvegpoging van Nederland teen Australië verdien ‘n groot applous – veral van hulle moedige kolwers wat die Aussies so ‘n paar keer effens benoud moes laat voel het… ek ondersteun enige span wat die manne van Doer Onder opdraende gee ;-)

Nou sien almal seker uit na Dinsdag se SA-Skotland wedstryd, en daarna die groot een volgende Sondag wanneer ons vir Australië vermorsel…. um… aanpak.

Hier is die telkaart vir die SA-Nederland wedstryd:

http://cricketworldcup.indya.com/scores/html/live/sane1603.html

krieket, wêreldbeker, rekords, australië



Teken In
Advertensie
Skakels Skakels na Kuier.co.za

# afrikaans ?

Kuier Saam in
Afrikaans