Afrikaans

Kuier Saam in Afrikaans

Argiewe vir January, 2007

Afrikaans

Slange In Die Gras


Neels - Algemene Geselskap, Natuur

AfrikaansMeeste mense wat my goed ken weet dat ek nie juis van slange hou nie… ja, ek is maar redelik skrikkerig ook vir hulle :-)

Wel, een van my vriende het troetelslange, maar gelukkig weet ek hulle is nie gevaarlik nie en ek het myself oortuig dat dit nie nodig is om bang te wees vir daardie twee slange nie… Ek kan julle egter verseker dat as ek nou een voor my op die grond sien seil gaan ek nie vir lank op hierdie stoel bly sit nie! Nogal snaaks hoe party mense doodbang is vir sekere goed, terwyl ander weer heeltemal op hulle gemak is met selfs iets wat uiters dodelik is…

Wel, sê nou net jy is in die veld saam met jou gesin of vriende en ‘n slang pik een van julle – sal jy weet wat om te doen? As dit ‘n giftige slang is kan iemand moontlik doodgaan as jy nie iets (kan) doen nie.

Hier is so ‘n paar moets en moenies oor hoe om noodhulp toe te pas in so ‘n geval, en een ding wat my dadelik opgeval het is dat jy NIE die wond moet “oopsny” of die gif moet probeer uitsuig nie!!! Dis iets wat baie mense vas glo en ek dink dalk moet ons maar hierdie spesifieke stukkie inligting met die mense rondom ons deel, want oningeligte besluite en aksies kan dikwels tragiese gevolge hê.

http://www.randomdendrite.com/venomous/snakebit.html

slangbyt, pik, gif, noodhulp

Afrikaans

Beheer ‘n Boeing


Gerhard - Interessanthede, Tegnologie

AfrikaansEk is seker dat die meeste van ons al die storie gehoor het dat as jy die vliegtuie in “Microsoft Flight Simulator” kan vlieg, jy ook die ware Jakob sal kan vlieg.

Ek is nie heeltemal so seker daarvan nie, maar vandag se webwerf bevat ‘n bietjie ekstra help met die hele vlileg ding :P

Dit is ‘n interaktiewe foto van die Boeing 777 se vlieg kajuit. Wanneer jy jou muis oor die instrumentasie beweeg gee hy vir jou ‘n beskrywing van die verskillende funksies van die kontroles.

As vliegtuie jou ding is, is hierdie nogal lekker interessant…

Ek is nie ongeskik nie, maar ek is darem nog nie seker of ek enige iemand sal vertrou wat net daardie prent gestudeer het om my veilig by die huis te kry nie. :)

http://www.meriweather.com/777/deck-777.html

boeing, vliegtuig, instrumentasie, vlieg

Afrikaans

Tandsorg


Neels - Algemene Geselskap

AfrikaansDis iets wat baie mense afskeep: besoeke aan die tandarts – hoofsaaklik omdat die idee van ‘n inspuiting in jou mond nie juis aangenaam is nie, maar ook omdat dit in die mens se natuur is om lui te wees en dinge uit te stel wat ons as minder belangrik beskou!

Sukkel jy met sensitiewe tande? Dalk is dit ‘n aanduiding dat jy verkeerde goed eet en drink, te min of ongereeld tande borsel, ‘n infeksie het, ‘n tekort aan sekere vitamines of minerale in jou liggaam het, of dat die beskermende lagie alreeds deur jare se Coke drinkery heeltemal weggevreet is ;-)

Daar is gelukkig ‘n verskeidenheid van wonderlike tandepastas en jel-produkte wat hierdie simptome kan verlig en ook jou tande en tandvleis kan “behandel” vir moontlike oorsake. Soos met enige ander mediese aangeleentheid is dit raadsaam om eers ‘n professionele, opgeleide persoon te raadpleeg vir raad.

Blykbaar help dit ook om gereeld (tussen etes) ‘n koppie swart tee te drink, omdat dit die groei van bakterieë stuit en gevolglik tandbederf teenwerk. Nou weet almal wat Gerhard se artikel oor tee so ‘n tyd terug gelees het mos hoe hy oor die idee voel, maar ek drink my (Rooibos)tee so en dink tog dat dit help…

So, liewe Kuier leser, hoe gereeld borsel jy jou tande? Hoekom nou skielik so stil? Wanneer laas was jy by ‘n tandarts? Jy weet, hulle het darem in die laaste 20 jaar opgehou om pasiënte te martel… wel meeste van hulle het opgehou ;-) Ja, genadiglik het daar darem baie verander sedert die middeleeue, en gelukkig is die tandheelkunde nie ‘n uitsondering nie!

Hier is kortliks die geskiedenis van die tandheelkunde in die 20ste Eeu, vir die wat belangstel (ongelukkig slegs in Engels):

http://www.ada.org/public/resources/history/…

Vir so ‘n bietjie Afrikaans oor tandsorg en sekere probleme, besoek:

http://www.jouglimlag.co.za/tandprobleme.htm

As mens se tande reeds van jongs af korrek versorg word het jy later minder probleme met hulle! Hier is wenke om daardie kleintyd besoeke aan die tandarts so ietwat gladder te laat verloop:

http://www.jouglimlag.co.za/pediatrie.htm

sensitiewe, tandarts, tandepastas, tandsorg

Afrikaans

McNaught se Komeet


Gerhard - Algemene Geselskap, Interessanthede, Wetenskap

AfrikaansSo ‘n klein bietjie langer as ‘n week gelede het ek op Milnerton se strand, by die lighuis, gestaan saam met ‘n paar vriende en gewag.

Alhoewel die wind verskriklik was het ek gevoel dat ek daar moet bly, want ek het die skouspel 2 aande vantevore gemis en hierdie was ‘n een keer in ‘n leeftyd gebeurtenis.

Ek praat natuurlik van die Komeet McNaught wat sy verskyning gemaak het hier in die Kaap (ek is nie seker of ‘n mens hom van Noorde af ook kon gesien het nie).

Vandag se webwerf bevat ‘n reeks foto’s van McNaught soos hy sigbaar was in Australië.

Hierdie foto’s is werklik asemrowend, veral as jy dink hoe moeilik hierdie komeet was om af te neem. (Net die mense met die netjiese kameras kon mooi foto’s kry van hierdie veskynsel, myne het net swart afgeneem)

http://www.flickr.com/photos/johnwhite/366937321/in/photostream/

komeet, mcnaught, milnerton, foto’s

Afrikaans

Dwelmmisbruik


Neels - Algemene Geselskap, Nuusagtig

AfrikaansEk het Saterdag se episode van Strong Medicine op die televisie gekyk en toe gedink dis dalk ‘n goeie idee om iets oor dwelmmisbruik op Kuier te skryf, aangesien dit wêreldwyd so ‘n groot probleem is – veral onder die jeug… en enige iemand kan onder die invloed beland – ongeag van ras, geslag, status, ens…

Moet ook nie te gerus wees omdat jou kind(ers) nog baie jonk is nie, want so twee jaar gelede is die lyk van ‘n agtjarige kind voor ‘n kerk in Johannesburg gevind, met ‘n spuitnaald in sy arm…

Ja kinders moet mos al vinniger grootword deesdae om by die tempo van die wêreld by te bly, so dit sou my ook nie regtig verbaas het as die berig oor ‘n ses- of vierjarige was nie… ongelukkig het die media ons al goed “voorberei” op die soort skokkende gebeurtenis… maar vir my bly dit maar ‘n hartseer ding om te sien of hoor hoedat nog ‘n onskuldige lewe verlore gegaan het – veral op die manier.

Gelukkig het ek nie juis kennis van dwelms nie, behalwe vir dit wat ek al gelees of op TV en in flieks gesien het, so ek laat vandag die oordrag van inligting oor aan die mense wat die volgende artikels geskryf het, omdat hulle beslis beter toegerus is daarvoor. Ek het hierdie spesifiekes uit ‘n groot klomp webbladsye wat oor die onderwerp handel gekies omdat die paar volgens my ‘n relatief kort en kragtige benadering het om die kennis oor te dra. Lees gerus daardeur en probeer die tekens onthou – wie weet, dalk red jy nog iemand van dwelmmisbruik.

Belangriker nog: Dalk red jy ‘n kosbare lewe!

Diè berig gee ‘n baie kort opsomming van hoe ouers hulle kinders teen dwelms kan beskerm en ook hoe om so ‘n probleem te identifiseer:

http://www.health24.com/medical/Focus_centres/777…

Hier is verskeie dwelms met hulle kenmerke, gevare, en gevolge, asook foto’s sodat ouers (en kinders) weet waarvoor om uit te kyk en versigtig te wees. Lees ook gerus die ander dele van hierdie artikel – sien skakels bo-aan die bladsy, veral deel 4 – dit gee ‘n lys van organisasies wat kan help:

http://www.jeugfokus.org.za/Dwelms/Dwelms003.html

Laastens het ek ook aan al die moontlike skooltake gedink wat onderwysers een van die dae gaan begin uitdeel, so hier is hulp daarvoor:

http://www.mieliestronk.com/dwelms.html

Ter afsluiting wil ek net sê dat mens nie te vinnig moet dink “dit kan tog nie met my of my familie en vriende gebeur nie, want ons meng nie met daardie tipe mense nie…”, want selfs voorgeskrewe medikasie kan verslawend word! Dus is my beleid om slegs medikasie te gebruik as ek REGTIG nie daarsonder kan oorleef nie, en dan so min en vir so kort as moontlik. Ja nee, party dokters is ook net tè gretig om pille voor te skryf, want dis mos die maklikste manier om simptome te “behandel”. Is die kinders te woelig? Geen probleem nie: sit hulle op Ritalin. Sukkel jy om te slaap: Drink slaappille. Hoofpyne? Daar’s pille daarvoor ook… Ons volstaan maar met hierdie paar voorbeelde :-)

Die rede hoekom ek vandag baie van die elipses (”…”) gebruik gemaak het in die storie is omdat ek regtig wil hê mense moet gaan DINK oor hierdie onderwerp, want dis omtrent net so erg soos die geweld in ons land!

dwelmmisbruik, beskerm, verslawend, oorleef

Afrikaans

Afrikaanse Nuus Blad


Gerhard - Afrikaans

AfrikaansSosiale webwerwe is besig om die Internet oor te neem. Hulle is oral, in alle vorms en grootes. Plekke waar jy musiek, foto’s, videos en idees kan deel…

Nog ‘n vorm hiervan is die idee om ‘n nuus blad te hê waar die nuus deur die gemeenskap geplaas word. Dit maak natuurlik dat net die beste nuus op die voorblad is en dan jy altyd seker is dat jy die nuutste nuus kry.

Hierdie week se Afrikaanse webwerf is presies so ‘n nuus webwerf, en soos ek gesê het, hy is in Afrikaans!

Ek is so bly om te sien hoe Afrikaans besig is om te groei op die Internet. :D

http://www.blik.co.za/

nuus, blik, afrikaans, gemeenskap

Afrikaans

Saterdag Samevatting


Gerhard - Samevattings

Wat het hierdie week op Kuier.co.za gebeur? Hier is jou kans om in te haal, in Afrikaans!

Afrikaans

Speletjie Inspirasie – Is jy een van daardie mense wat absoluut mal is oor rekenaar speletjies? Ek praat van die mense, onder ons, wat selfs…

Ek Wil Die Wêreld Sien, Ma! – Wat is volgens jou die mooiste, mees asemrowende plek(ke) op aarde? Ek en G het die naweek so vinnig gesels oor plekke wat ons nog graag van nader wil sien, en in daardie gesprek was onder andere Duitsland, Skotland en Ierland genoem…

Teetyd Pret #30 – Vandag se Teetyd Pret speletjie se naam is “Squares” en het my nogal ´n hele paar keer laat probeer…

Oppas Hier’s Die Eksperts! – Hulle is orals: Die sogenaamde “kenners”… ja, daardie mense wat dink… nee GLO dat hulle alles weet en altyd reg is, en dan maak asof jy die grootste idioot onder die son is! Dalk werk jy saam met ´n paar (hopelik min) van hulle…

50 Jaar Onder Die Gras – Neels het so ‘n tydjie terug gesels oor die idee om in tyd te toer, of soos hy dit gestel het, om die tyd so ´n bietjie terug te draai…

Hoe Veilig Is Ons Banke? – Hoeveel vertroue het jy in jou bank om seker te maak dat jou geld veilig is? Is dit raadsaam om al jou finansies deur een bank te laat behartig of moet mens liewer twee of meer hê, net vir ingeval…

Koos Kombuis Sê – Koos Kombuis het ‘n nuwe inskrywing gemaak en hy praat oor iets wat my baie na aan die hart lê, Afrikaanse musiek. In sy inskrywing gesels hy oor ‘n pakkie wat hy van ´n nuwe…

Keer Terug Na Die Ark – Ek was self jare laas by ‘n dieretuin – waarskynlik nog toe ek in die laerskool was… en toe ek nou vanoggend hierdie artikel sien dink ek dit sal nogal lekker wees om weer ‘n slag besoek…

Rustige Lêplek – Al is daar nie meer baie tyd vir daardie tipe ding nie, is die idee om net te lê voor die TV ´n baie aangename idee. Die probleem is net gewoontlik dat die algemene sitkamer…

Minder Rustige Lêplek – Op ‘n effens ironiese, maar ook baie ontstellende noot gaan my storie vandag oor die feit dat ‘n paar nikswerd lafaarts alweer nog ‘n Suid-Afrikaner, wat nie in staat was om homself te verdedig nie…

Geniet die naweek ;)

afrikaans, afrikaanse musiek, kuier, suid afrika

Afrikaans

Minder Rustige Lêplek…


Neels - Afrikaans, Nuusagtig

AfrikaansOp ‘n effens ironiese, maar ook baie ontstellende noot gaan my storie vandag oor die feit dat ‘n paar nikswerd lafaarts alweer nog ‘n Suid-Afrikaner, wat nie in staat was om homself te verdedig nie, se voorheen rustige lêplek in presies die teenoorgestelde omskep het. Dit het gebeur toe rowers Anton Goosen se plaas woensdag binnegedring, hom wreed aangerand en gedreig, en daarna beroof het.

Ja, nog ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar het deurgeloop onder die “volkome onder geheer” misdaad in ons land… maar solank die politici in hulle multi-miljoen Rand wonings met 24 uur sekuriteit sit sal daar NIKS aan hierdie groeiende epidemie gedoen word nie! Dit raak hulle mos nie…

Iets wat my verder bekommer het is dat Anton Goosen se plaas in ‘n “omheinde veiligheidsgebied” is – so nee, dit help blykbaar nie eers meer mens woon in ‘n fort in hierdie land nie!

Na die aanval en nag van trauma het ‘n ontstelde Mnr Goosen, volgens berigte, die volgende opmerking gemaak: “Onthou jy hoe Madiba en Francois (Pienaar) in 1995 die beker opgelig het? Dinge is nie meer dieselfde nie. Misdaad het ´n kultuur geword en wit èn swart word geraak,”

Ja dit is ongelukkig so – dinge is nie meer dieselfde nie… en dit lyk my niemand gee juis om nie.

Nou kan ons maar aanhou strikkies dra en kla en optogte hou en sê hoedat praat alleen nie gaan help nie, maar hoe baie planne en vasberadenheid ons ookal het – AS ONS NIE IETS DOEN NIE GAAN DIT NET ERGER RAAK!

Ek het al oorweeg om vir Mnr Mandela ‘n brief te skryf en te pleit dat hy met ons huidige president praat en vra dat die mense van hierdie land beskerm word, in plaas daarvan dat geld bestee word om lughawens se name te verander, sport stadions te bou, vir oorsese vakansies rond te vlieg, of partytjies te hou, of mense in ander lande (veral in Afrika) te beskerm, maar ek weet nie of so ‘n brief ooit eers by hom sal uitkom nie. Miskien kan iemand soos Bill Gates of Richard Branson hulle aansien en invloed gebruik? Wat dink julle? Ons het praktiese oplossings nodig wat ons werklik kan toepas om dinge intussen ten minste bietjie te verbeter!!!

Hoe lyk dit – is daar nog Afrikaanse kunstenaars wat, soos Steve Hofmeyr, bereid is om op te staan en te sê dat dit was nou genoeg en ons gaan nou optree?

http://www.dieburger.com/Stories/News/13.0.1908076360.aspx

ontstellende, verdedig, wreed, misdaad

Afrikaans

Rustige Lêplek


Gerhard - Algemene Geselskap, Interessanthede

AfrikaansAl is daar nie meer baie tyd vir daardie tipe ding nie, is die idee om net te lê voor die TV ‘n baie aangename idee. Die probleem is net gewoontlik dat die algemene sitkamer bank nie heeltemal voldoen aan die gemak vereistes waarvan die meeste mense sal wou gebruik maak nie.

Vandag se webwerf bevat die oplossing vir hierdie probleem. Behalwe vir die feit dat dit idiaal sal werk voor die TV is die “bank” ook heeltemal veranderbaar om in enige volm in te pas.

Ek sal baie liewer een van hierdie sake koop voordat ek weer ‘n sent op ‘n poef (beanbag) sal spandeer. :)

http://www.adero.de/k_details.php3?id=6&r=liegen_liegen

bank, sitkamer, lê, ontspan

Afrikaans

Keer Terug Na Die Ark


Neels - Algemene Geselskap, Lekkertes

AfrikaansEk was self jare laas by ‘n dieretuin – waarskynlik nog toe ek in die laerskool was… en toe ek nou vanoggend hierdie artikel sien dink ek dit sal nogal lekker wees om weer ‘n slag besoek af te lê by een en die klomp verskillende diere te sien waarmee ons hierdie land en planeet deel. Nou wonder ek ook hoeveel van julle is bewus van die groot omvang om so ‘n dieretuin aan die gang te hou en om al die diere elke dag te voer en te versorg, want dit opsig self is ‘n reuse, voltydse werk! Hierdie is dalk ‘n goeie geleentheid om mense aan te moedig om hulle plaaslike dieretuine te ondersteun. Wie weet, een van die dae moet hulle dalk ook sluit om plek te maak vir “ontwikkeling” – vir groot winkelsentrums en ander meer “winsgewende” besighede… wat dan sal beteken dat ons nageslag miskien nooit eers ‘n aap of leeu of olifant van naby sal kan sien nie…

So volgende keer wanneer julle oor ‘n naweek net heeltyd voor die TV sit, hoekom nie liewer die vars buitelug geniet en ‘n lekker dag as gesin saam deurbring nie?

http://www.ioltravel.co.za/article/view/3637439

dieretuin, geleentheid, ondersteun, nageslag



Teken In
Advertensie
Skakels Skakels na Kuier.co.za

# afrikaans ?

Kuier Saam in
Afrikaans