Dozi
Wie is Dozi?
Soos op www.dozi.co.za

Henk, die jongste kind van Theuns en Susan Opperman, is gebore in Hluhluwe, waar Dozi vlot Zoeloe leer praat het by sy Zoeloe maatjies op die plaas. Sy ouers verhuis na ‘n plaas naby Standerton, toe hy ses jaar oud is. Dozi gaan op Leslie skool en voltooi sy skoolloopbaan op Evander. Op skool tree hy alreeds by verskeie geleenthede op, want daar was nog altyd geen ander loopbaan vir Henk as om musiek te maak nie.
Nadat hy sy diensplig voltooi het, studeer hy grafiese ontwerp aan die Technikon Pretoria. Dit is hier waar hy die bynaam van Dozi kry, omdat hy baie lief was vir slaap. Hy sluit daarna aan by die polisie orkes onder leiding van Hansie Roodt en na jare se harde swoeg en sweet, word sy eerste album uitgereik in 1999.
Hierdie album, “Mercy” is ‘n geestelike Zoeloe album en in 2000 word sy eerste Afrikaanse album “Op Aanvraag” uitgereik. Dit is ‘n treffer en meer as 100 000 kopieë word verkoop wat die album dubbel platinum status laat bereik. “Op Aanvraag” bly ‘n gunsteling en die verkoopsyfer styg steeds. Die volgende album, met die naam van “Storm op die Horison” word vrygestel in Desember 2001 en het ook reeds platinum status bereik. In Februarie 2003, word “Siyaya – Ons Gaan …” uitgereik. Dozi het platinum toekennings vir beide “Storm op die Horison” en “Siyaya” ontvang by Aardklop 2003 op Potchefstroom.
In Desember 2003 is Dozi se “Rockin’ the world” uitgereik. Die album is vrygestel op die aandrang van ondersteuners, wie altyd na Dozi gaan luister het toe hy as student by verskeie restaurante opgetree het. Dit is duidelik dat Dozi se vertolking van die reeds bekende liedjies op hierdie album baie gewild is, want die album bereik goue status in ‘n rekord tyd.
Gedurende die KKNK ( Klein Karoo Nasionale Kunstefees ) van 2004, het Dozi , behalwe vir sy gewone optredes, ook opgetree saam met Jannie Moolman en die Afrika Mamas. Die produksie het ‘n Kanna toekenning gewen vir die gewildste produksie by die Fees.
Dozi se DVD, “Dozi Live in the Rendezvous” is gedurende Augustus 2004 vrygestel en vul ‘n leemte wat al vir ‘n geruimte tydperk in die musiekversamelings bestaan, van die mense wat sy musiek geniet.
Dozi se nuutste Afrikaanse album, “Kruispad” is vrygestel gedurende Aardklop 2004. Hierdie album word goud kort na uitreiking. “Kruispad” weerspieël Dozi se veelsydigheid as kunstenaar en sy vermoë om elke liedjie, hetsy ernstig of humoristies, uit die hart uit te sing.
Dozi en sy orkes het gedurende Junie 2005 ‘n baie suksesvolle toer in Amerika gehad en op 11 Julie 2005 word Dozi as ‘n 46664 ambassadeur aangewys deur die Nelson Mandela Stigting ten bate van navorsing en hulp vir Vigs slagoffers. Dozi het ook gedurende 2005 as gaskuntenaar gesing op die cd’s van Anton Goosen; Bianca; Irene van Wyk asook ‘n huldeblyk aan Gë Korsten. Gedurende November 2005 tydens die Vonk Musiektoekennings, word Dozi aangewys as wenner in die kategorie “Liedjie van die jaar” met die snit “Grassade in die wind”. Dozi wen ook die kategorie “Beste Solo kunstenaar” met die album “Kruispad”.
Dozi tree op saam met sy eie orkes, wat sy reeds gewilde optredes ‘n afgeronde en opwindende klank gee. Die orkes bestaan uit Stef Kruger op perkussie en tromme, Ricus Nel op klawerbord, banjo, konsertina, mandolien en “pedal steel” kitaar, Theo Klassen op baskitaar en vanaf die einde van 2005, Heath Fouche op kitaar. Die orkes tree voltyds saam met Dozi op en saam gaan hulle nog ver paaie loop.
Dozi werk huidiglik aan ‘n nuwe Afrikaanse album wat hy beoog om gedurende Maart 2006 vry te stel en ‘n nuwe DVD word ook vir 2006 beplan.
Stef Kruger
Stef is die skrywer van Dozi se Afrikaanse liedjies en het al self ook twee suksesvolle solo albums agter sy naam. Vir 25 jaar het Stef tromme gespeel in die polisieorkes en hy speel nou ook tromme in Dozi se orkes. Stef is gebore in Phillipolis in die Vrystaat en is tans woonagtig in Hartbeespoort, alhoewel sy hart steeds gedeeltelik aan sy geboorte dorp behoort. Stef skryf liedjies vir verskeie sangers in die Afrikaanse musiekbedryf en word as een van die skatte van ons tyd beskou. Hy het ‘n digbundel vrygestel wat baie goed ontvang is asook ‘n musiekbundel, waarin baie van die liedjies wat tot dusver opgeneem is, vervat word. Hierdie liedjies het die kitaardrukke asook die klaviernote by.
Theo Klassen
‘n Musikant van formaat , het Theo al op sestien jarige ouderdom begin baskitaar speel en dit is dan ook die instrument wat hy bespeel in Dozi se orkes. Theo is nie ‘n vreemde gesig op die TV nie en was al betrokke by Crescendo asook by verskeie ATKV produksies. Hy is oorspronklik van die Kaap, maar woon huidiglik in Gauteng, waar hy steeds betrokke is by vele musiek produksies soos onder andere die “Classic Rock” produksie wat by Aardklop 2003 aangebied is. Theo speel van boeremusiek tot eksperimentele Jazz met ewe veel gemak en is ‘n baskitaarspeler en musikant wat sy gerespekteerde plek volstaan tussen die mees uitnemende musikante van ons land.
Ricus Nel
Ricus het al op twaalfjarige ouderdom, sewe verskillende musiekinstrumente bespeel. Hy het grootgeword in die Rustenburg omgewing en sy familie was nog altyd betrokke in die musiek bedryf. Ricus se geheime passie is boeremusiek. Hy speel klawerbord, banjo en konsertina in Dozi se orkes, en indien dit menslik moontlik was, sou hy ook tromme, kitaar en baskitaar kon speel. Ricus is ongelooflik talentvol en bespeel twaalf verskillende soorte musiekinstrumente. Hy vorm ‘n onmisbare gedeelte van die eenheid wat saam met Dozi die verhoog betree.